top of page

Annemarie Carvalho (37) en haar dogters, 9 en 12, het geslaap toe twee rowers ‘n staal- en skuifdeur na die huis oopgebreek het.

“Ek het kort na middernag wakker geword van flitsende ligte in die sitkamer. Ek het opgestaan om te gaan kyk en toe ek by die sitkamer inkom, het ek my in hulle vasgeloop. Een het my gegryp en met ‘n knuppel in die gesig geslaan. Ek het geval en geskree en met hulle probeer stoei. My kinders het wakker geword en toe my dogters kom kyk wat aangaan, het hulle die kinders ook gegryp en met ‘n sambok geslaan,” het Annemarie aan Kormorant gesê.

Die rowers het gevra vir geld en Annemarie en die twee kinders herhaaldelik met albei wapens geslaan. “Hulle het my in ‘n stadium oor die vloer gesleep en my oudste het vir hulle geskree om my uit te los. Hulle het haar gegryp en teen die muur gestamp. Toe is hulle na ons kamer toe waar hulle ‘n skootrekenaar en selfone gevat het, asook die werk se skootrekenaar in die sitkamer voor hulle weg is.”

Annemarie en die kinders het na die bure gehardloop en oor die hek geklim om hulp te vra. Lede van die Brits gemeenskapspolisiëringsforum, MonitorNet en Lowveld Sekuriteit, sowel as M.A.T.E.R-ambulansdienste was vinnig op die toneel, gevolg deur die Mooinooi polisie.

Annemarie en die kinders het ernstige wonde opgedoen en is na die hospitaal geneem vir behandeling.

“Ek weet nie wat hulle so skielik laat vlug het nie. Ek glo God se engele was by ons. Die kinders is baie getraumatiseerd. My ouers, wat saam met ons hier gewoon het, is albei in Maart en April oorlede en ons sukkel nog om dit te verwerk, en nou hierdie ook. Ons gaan die plaas verlaat en verkoop.”

Die Mooinooi polisie ondersoek die saak en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Deur: Daleen van Manen/ Kormorant

ʼn 27-jarige man is by OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem met byna R7 miljoen kontant in Amerikaanse en Suid-Afrikaanse geldeenheid in sy besit.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê danksy ʼn geïntegreerde plan en gebaseer op inligting, is die bagasie, wat vermoedelik kontant bevat het wat die man nie verklaar het nie, Vrydag by die lughawe onderskep.

“Nadat die span bevestig het dat die bagasie wel ʼn bedrag van $199 300 en R4 500 400 (altesaam meer as R6,99 miljoen) bevat, is die man in hegtenis geneem en hulle het hom verhoed om na Mauritius te vertrek,” het Naidoo verduidelik.

Die man sal Maandag in die hof verskyn op aanklag van die oortreding van die Doeane- en Aksynswet.

Advert 4.jpg

© 1998 S.A Nuus en Besighede. Trots vir Suid-Afrika.

bottom of page